Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 7 JULIE 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:
DRIE SA RADIOAMATEURS ONTVANG DIE MTN RADIOAMATEUR VAN DIE JAAR TOEKENNINGS
PROFESSOR TIM GIBBON DIE HOOFSPREKER BY RADIOTEGNOLOGIE IN AKSIE PORT ELIZABETH
NUWE ERA VAN AMATEURRADIO

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

DRIE SA RADIOAMATEURS ONTVANG DIE MTN RADIOAMATEUR VAN DIE JAAR TOEKENNINGS

Drie SA radioamateurs het tydens ‘n galamiddagete wat verlede Donderdag in Midrand gehou is die MTN Radioamateur van die Jaar toekennings ontvang. Hierdie jaarlikse funksie wat deur MTN aangebied het ten doel om amateurs aan te moedig om amateurradio en die gemeenskap met hierdie stokperdjie te dien.
Ryan Gould, MTN se Algemene Bestuurder Handelsmerk en Kommunikasie in SA, het gesê dat MTN weereens bevoorreg is om die MTN Amateurradio Toekennings te ondersteun en "The awards are the only ones in South Africa which recognises those individuals and organisations that have done well in the amateur radio field and that amateur radio is still appreciated in the community. We seek to continue encouraging participation within the amateur radio community as this field continues to grow in South Africa."

Die MTN Garth Milne Tegnologie Toekenning is aan Deon Coetzee, ZR1DE, vir sy bydrae tot die SA AMSAT KLETSkous kubussateliet projek. Deon het ‘n ruimteraam wat aan internasionale standaarde voldoen en vanaf die kubussateliet se draer gelanseer kan word ontwerp en ontwikkel. Tot op datum het hy twee prototipes gebou en is tans besig met ‘n derde een wat moontlik die vlugmodel kan word. Verder is hy ook besig om aan ‘n meganisme wat die ontplooiing van sonpanele moontlik kan maak te werk. Dit sal heelwat meer krag beskikbaar maak vir die werking van die dravrag.

Hannes Coetzee, die KLETSkous projekbestuurder, het tydens die onlangse SA AMSAT Ruimtesimposium gesê dat alhoewel ruimterame kommersieel te koop is Deon die projek geldelik baie gespaar het. Hierdie fondse kan nou vir die lanseringskoste aangwend word. Voorts maak die plaaslik ontwerpte raam voorsiening vir ons behoefte aan ontplooibare sonpanele en antennas.

Die MTN Radioamateur van die Jaar Toekenning is aan Dawie Conradie vir sy bydrae om amateurradio in die gemeenskap te bevorder gemaak. Hy produseer ‘n weeklikse dertig minuut program “Amateur Radio in Aksie” en al om die tweede week is hy verantwoordelik vir “Amateur Radio Today”. Hy bevorder ook amateurradio op Bosveld Stereo en het ‘n tweetalige advertensieflits van dertig sekondes gemaak.

Die MTN Amateurradio Gemeenskapsdienstoekenning is gemaak aan Glynn Chamberlain, ZS6GLN, vir sy lojale ondersteuning van SARL HAMNET. En in die besonder vir sy aandeel gedurende die soektog na ‘n vliegtuig wat in Mosambiek vermis geraak het.
Glynn het die span vrywilligers wat tussen 06:00 en 18:30 elke dag moes kommunikeer gekoördineer en ondersteun. Hy het stamina en deursettingsvermoë aan die dag gelê en gesorg dat kommunikasie elke 15 minute tussen Suid Afrika en Beira bewerkstellig is. Dit was die eerste groot operasie waarin Glynn die leiding geneem het.
Hartlik geluk aan hierdie drie wenners. Meer inligting is by www.amateurradio.org.za beskikbaar.

PROFESSOR TIM GIBBON DIE HOOFSPREKER BY RADIOTEGNOLOGIE IN AKSIE PORT ELIZABETH

Tim Gibbon, medeprofessor by die Departement Fisika en Hoof van die Optiese Vesel Navorsingseenheid van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, sal as hoofspreker by die Radiotegnologie in Aksie Simposium wat op Saterdag 27 Julie 2013 te Port Elizabeth aangebied word optree. Sy onderwerp sal verband hou met die Sein- en Data aspekte van SKA Radiosterrekunde.
Besprekings vir hierdie byeenkoms is nou moontlik en besonderhede is beskikbaar by www.sarl.org.za.
Vooruitbespreking is noodsaaklik indien u die boustel, CD en digitale multimeter wil bekom. Instapregistrasie op die dag van die byeenkoms sal heelwat duurder wees en dan is daar geen waarborg dat die genoemde items beskikbaar sal wees nie.

AMATEURRADIO BIED AAN: AMATEURRADIO DIE KONVENSIE

Meer omtrent omtrent die binnewerking van die bekendstelling van Amateurrdio in Europa kan gesien word in ‘n nuwe video wat deur Gary Pearce, KN4AQ, vervaardig is. In ‘n onderhoud met met programbeplanner Petra Rothgerber, wat vir “Ham Radio” verantwoordelik is en Kelly Hall, K1LLY, die Medevoorsitter van die “Daton Hamvention” is dit duidelik hoe die twee konvensies in beplanning en uitvoering verskil. Dit is noemenswaardig dat Petra Rotgerber nie ‘n radioamateur is nie, maar professioneel verantwoordelik is vir die reël van handelstentoonstellings. Sy verduidelik dus hoe “Ham Radio” as ‘n professioneel bestuurde gebeurtenis bedryf word. In kontras is die “Daton Hamvention” ‘n byeenkoms wat deur toegewyde vrywilligers georganiseer word. Dit is dus interessant om hierdie twee perspektiewe te hoor en te vergelyk. KN4AQ het sy program “Europe’s Biggest Hamfest” genoem. Episode 84 van sy reeks kan nou aanlyn by www.arvideonews.com/hrn gesien word.

NUWE ERA VAN AMATEURRADIO

Radioamateurs van die verlede het die weg gebaan vir ‘n baie suksesvolle fondament vir amateurradio wat verder in die 20ste eeu ontwikkel het. Aan die begin van die 21ste eeu was daar egter ‘n merkbare afname in amateurradioaktiwiteit en is by baie klubs opgemerk dat dit hoofsaaklik die ouer garde is wat vergaderings bywoon.
Hoekom? ‘n Ontleding van oorsese gegewens toon dat amateurradio by ‘n kruispad gekom het en ‘n keuse moes maak tussen vorentoe beweeg of terug te beweeg na die die verlede. Eienaardig genoeg is die tweede keuse gemaak! Besigtig gerus “Ham Radio’s Lost Future” op www.AmateurRadio.com

Radiotegnologie het oor die afgelope jare geweldig ontwikkel en vandag is van die jongste ontwikkelings te vind in die radiosterrekunde. Gesofistikeerde digitale prosesseringstegnieke is reeds jare in gebruik om astronomiese radioseine wat ‘n miljoen keer swakker is as die geraas wat deur die ontvanger gegenereer word waar te neem.

MegaWatt radarsenders word ingespan om die versteekte oppervlaktes van planete soos Venus te karteer of die afstand na asteroide en komete te bepaal. Dit het gelei tot die uitvinding van ‘n vereenvoudigde weergawe van digitale datamodus vir amateurgebruik deur professor Joe Taylor, K1JT.

Die uiters rekenaarvaardige nuwe geslag radioamateurs sal die eer hê om die Amateurradiodiens in die toekomstige wêreld in te lei deur gebruik te maak van sagtewaregedefinieerde radio vir digitale en foonkommunikasie op BHF, UHF en Mikrogolfbande. Maanherhalers sal volg wat 12 uur DX daagliks sal bied en om uiteindelik ook die amateurradioveld die sonnestelsel in te neem.

KLUBNUUS

OVERBERG RADIOAMATEURKLUBVERGADERING TE SANRA
Die Overberg Radioamateurklub sal op 13 Julie om 10:00 ‘n klubvergadering te SANRA met ‘n kort aanbieding hou. Daarna sal na Kleinmond vertrek word vir ‘n toringpartytjie en braai. Toringtakelaars is baie welkom.

WESRAND ARK KIES NUWE KOMITEE
Die Wesrand ARK het op 1 Julie sy algemene jaarvergadering gehou en die volgende lede is tot die komitee verkies:
Voorsitter - Geoff Levey, ZS6GRL
Ondervoorsitter - Nick Dreyer, ZS6NCK
Sekretaris - Noel Hammond, ZR6DX
Tesourier - Dave Cloete, ZR6AOC
Klubhuisbestuurder - Marinus Brand, ZS6BM
Lede:
Romeo Nardini, ZS6ARQ
Willem Weideman, ZS6WWJ
John Brock, ZS6WL

Dank aan die vorige komitee vir hulle werk en toewyding tot die Klub.

KOMPETISIENUUS

IARU HF-KAMPIOENSKAP
Die IARU HF-kampioenskap sal op die lug wees van 00:00 UTC Saterdag 13 tot 12:00 Sondag 14 Julie met GG en foonaktiwiteit op 160, 80, 40, 20, 15 en 10 meter. 'n RS of RST verslag en u ITU Sone word uitgeruil, vir Suid-Afrika is dit Sone 57. IARU lidvereniging HK stasies sal 'n RS of RST verslag en Verenigingafkorting uitruil, terwyl IARU amptenare AC, R1, R2 of R3 sal uitruil.
Geoff, ZS6GRL, is nog steeds op soek na operateurs vir ZS9HQ. U hoef nie in die Johannesburg gebied te wees nie. Kontak Geoff by contest@sarl.org.za of 082 546 5546

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Sonvlek AR1785 het 'n beta-gamma-delta magnetiese veld en huisves genoeg energie vir X-klas sonfakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 72.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge kan van tyd-tot-tyd oor Oos-Wes daglig paaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

13-14 Julie – IARU HF kampioenskappe
19 Julie – Sluitingsdatum vir inskrywings RTA in Port Elizabeth
20 Julie – SARL Winter QRP Kompetisie
27 Julie – RTA in Port Elizabeth
3 - 4 Augustus - Hamnet Winteruitdaging

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel en geredigeer deur Louis Kirstein, ZS1LK.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003